|
 Willem Badenhorst - Kairosbediening
Ek is gebore in Daniëlskuil in die Noord Kaap en het in ‘n plattelandse Kafee grootgeword. Ek wou graag ‘n ingeneur of argitek word, maar in 1973 het die Here, op ‘n baie besondere manier, my geroep om predikant te word.
Bloemfontein en Pretoria sou vir die eerste sewe jaar na skool my blyplek wees. Straatwerk in my eerste jaar het my gehelp om vir die eerste keer te verstaan wat ek glo. My passie om vir ander van Jesus te vertel en hulle aan Hom voor te stel het daar begin.
Na twee jaar in die weermag op Oudtshoorn lei die Here ons (Ronel en Wessel(2jr) in 1984 na George Moedergemeente waar ons vir 20jr sou werk.
Sedert Julie 2004 is ek voltyds besig om in sakepersone en ander leiers se lewens d.m.v. mentorskap te belê. (Lees meer hieroor by Kairos-bediening.)
Bakens in my lewe:
-
My ouerhuis: Alhoewel my ouers nie alles verstaan het nie, was hulle kerk elke dag. Ek dank die Here vir die gawe wat hulle ontvang het om my te leer om te Lewe met Impak.
-
My roeping: Ek en ‘n vriendin het deelgeneem aan die Rapportryers se redenaars kompetisie. Ons moes die standpunt stel: “kommunisme sal nooit christendom oorwin nie”. My pa wat vir 3jr professioneel toneel gespeel het, het my toespraak geskryf en ons afgerig. My afsluiting-sin was: “die rooi ster van Rusland sal nooit die ster van Bethlehem laat ondergaan nie”. Een van die beoordelaars vra my toe of ek vir predikant gaan leer, waarop ek baie arrogant antwoord: “lyk ek vir jou mal…”
Min het ek geweet dis juis die gesprek wat die Here sou gebruik om my totale toekoms te bepaal. Een nag in die derde kwartaal van standerd 9 kon ek nie slaap nie. Ek moet weet wat ek met my lewe wil doen. As ek ingeneur word, kan ek heelwaarskynlik ‘n beurs by die myn kry, ek sou graag ook argitek wou word maar daar’s nie fondse daarvoor nie aangesien die besigheid baie swak was.
Terwyl ek die verskillende opsies oorweeg en rondrol op die bed, kom die stem van die beoordelaar voortdurend terug na my toe: “jy gaan seker vir predikant leer…?” dis later 02:00 in die môre en ek kan nie rus kry nie. Toe onthou ek die verhaal in die Bybel van Samuel en Elia. Ek sê toe: “Here, ek weet nie of dit U is wat met my praat nie …, maar as dit U is wat wil hê ek moet dit doen, sal ek dit doen…” op daardie oomblik het ek soveel vrede ervaar dat ek hardop begin lag het. Ek het geweet dat ek weet dat ek weet dis wat ek moet doen. Sedert daardie nag het ek nog nooit weer getwyfel of dit die regte ding was nie. Ek het God gehoor.
Finansies was ‘n groot probleem. My pa het ‘n geloofs- uitspraak gemaak deur te sê dat hy daarvoor sal betaal. Ek het geweet dat die besigheid nie die inkomste daarvoor het nie. God wat getrou is, het vir letterlik tien jaar voorsien dat ek sonder ‘n klomp studieskuld kon klaarmaak. God is goed.
-
Klub 6:13 in Bloemfontein en oom Neels Lamprecht het my gehelp om te verstaan wie ek in Christus is en hoe om in ‘n verhouding met Hom te leef.
-
Mentors op universiteit: Johan Heyns en Malan Nel
-
My sendingbekering: 1992 het ek vir die eerste keer verstaan hoe belangrik dit is vir kerk van Jesus om die mense wat nog nooit van Hom gehoor het nie te bereik. Dit het uitgevloei in die hou van Sendingweke waardeur die visie met gelowiges gedeel ken word. God het ons harte aan die brand kom steek vir Sy mense.
-
Mentorsvriende: Marius Potgieter wat my meer van kerkwees geleer het as enige iemand anders en Marius van Rooyen (kollega en vriend met wie ek dae kan omkuier en nooit genoeg sal kry nie) dankie vir julle rol in my lewe.
-
Gemeentevreugde: groep kollegas wat materiaal ontwikkel het en opleiding gedoen het rondom die verstaan van kerk en die rol wat selgemeentes as voertuig vervul om mense te help om weer familie in Christus te wees.
-
Mentorskap: uit bg. het dit al duideliker geword dat mense te min rolmodelle het. Jesus se hele lewe was daaraan gewy. Kairos bediening is gebore – Prys die Here! Om 24/7 kerk te wees is ‘n lewensstyl wat ons moet dupliseer. Die beste manier om dit te doen is, leef dit self en deel dit so met ander.
|